wie is ons

Liewe Mamma, Pappa, Ouma, Oupa, Kleuterskool juffrou – ag, almal wat saam met ons glo dat elke kleuter propvol potensiaal is wat net wag om ontgin en ontwikkel te word! Bazoo is ‘n kleutertydskrif wat spesiaal
geskep is vir hierdie doel.

Sonja Cilliers en Charne Wessels het ontmoet as kollegas by die Universiteit van Stellenbosch waar beide dosente in Rekeningkunde was.

Sonja vertel:  Ek dink die feit dat ons beide by tersiêre opvoeding betrokke was en die dringende behoefte aan leesvaardighede so deeglik besef het, gekombineer met die feit dat ons eie kleutertjies
op die vooraand van ‘groot skool’ gestaan het, het gelei tot die idee van ‘n kindertydskrif.

Daar was baie tydskriffies in Engels beskikbaar, maar nie veel in ander tale nie. Ons wou graag ons tydskrif ontwikkel in ten minste Afrikaans, Xhosa en Zoeloe en dit is nog steeds ons mikpunt, maar ons het besef om daadwerklik die bal aan die rol te kry, ons onsself eers in een taal moes vestig – Afrikaans.

‘n Heerlike reis het begin en kort voor lank het ons ‘n baie bekwame span medewerkers gehad wat aan ons eerste proefuitgawe help werk het: bekende illustreerders soos Fred Mouton en Rassie Erasmus; kurrikulum spesialis en leeskonsultant, Annatjie Hanekom; skrywers Danie Schreuder en Helette Norval en uitleg-en ontwerp guru Marti Kirstein wat elke uitgawe van Bazoo laat blom! Intussen het ons hoofkaraktertjie ‘n naam en ‘n lyfie gekry – Bazoo, die vriendelike skilpad, met die een tand. Ja ons weet skilpaaie het nie tande nie, maar dit gee hom net soveel meer persoonlikheid!

Ons vriende met kinders het idees en bydraes aangebied: ‘n vriendin met ‘n Clavinova, musiektoerusting en baie verbeelding, het aangebied om ‘n liedjie vir elke uitgawe te skryf en op te neem – iets wat by elke uitgawe se tema pas. Nou het Bazoo sy eie CD, met Bazoo stories en Bazoo liedjies!

Dit is ‘n voorreg en ‘n groot verantwoordelikheid om by die opvoeding van kleuters betrokke te wees en ons hoop julle geniet dit net so baie soos ons!

Ons nooi jul hartlik uit om mee te maak aan die wonderlike reis saam met Bazoo en sy vriende.

BAZOOGROETE
Sonja Cilliers en Charné Wessels
Redaktrises